Politika is nie ’n handelsuitgewer met winsbejag nie. ’n Mens kan dit die beste beskryf as ’n sirkel of tafelronde van vriende van die Wiese- en Basson-gesinne van Clifton wat besonder in die kuns van boeke en boekproduksie belang stel, m.a.w. in skryf, druk, fotografie, illustrasies en wat ook al onder “uitgewery” verstaan word.

Politika is in die private besit en onder bestuur van Caro Wiese, die skrywer Japie Basson se oudste dogter. Basson was een van die merkwaardigste politici van die Parlementêre stelsel van voor 1994, en ’n skerp politieke waarnemer wat sy hele politieke lewe deur sterk teen growwe menseregteskendings standpunt ingeneem het.

Basson was meer as dertig jaar lank ’n Lid van die Parlement. Hy het die eerste band van sy politieke herinneringe voltooi en wou dit privaat uitgee. Vir dié doel het hy die sirkel se raad gevra wat ’n aantreklike omslag, die leesbaarste lettertipe, illustrasies en formaat betref. Politika (deur Basson as ’n naam vir die publikasiewerktuig voorgestel), is hieruit geskep.

Daar was sedertdien reeds drie publikasies: Raam en Rigting in die Politiek en die Storie van Apartheid; Politieke Kaarte op die Tafel; en Rammelland van ’n Rotsrymelaar. Politieke Kaarte is reeds in sy tweede druk, en Rammelland is ’n luukse uitgawe van slegs 100 eksemplare wat tydens die 60ste huweliksherdenking van die skrywer en sy vrou Clare as geskenke aan gaste uitgedeel is. Dit is ’n versameling ballades en odes asook “toesprake” in rym wat die skrywer oor talle jare heen neergepen het.

 

Nog twee publikasies gaan vanjaar die lig sien, naamlik State of the Nation as Viewed from a Front Bench in Parliament, 1969 – 1981 en  Steeds op die Parlementêre Kolfblad, met Insigte oor die Afrikaner en Afrikaans – die derde deel van Basson se politieke herinneringe. State of the Nation is ’n reeks insiggewende – en rigtinggewende – politieke artikels wat oor ’n tydperk van twaalf jaar op uitnodiging in die Sunday Tribune, die Sunday Times en die Eastern Echo verskyn het.

’n Mens kan dus tereg sê Politika is die produk van die skrywer se besluit om sy politieke reis in die gedaante van sy herinneringe te boek te stel, wat hy gedoen het as ’n reeks essays, soos Gerald Shaw dit in ’n resensie in die Cape Times noem. Dié essays dissekteer, soos Shaw dit stel, “pivotal events and personalities in this country”.

Basson het vir suiwer plesier geskryf, en ook ten bate van diegene wat ’n studie van die Suid-Afrikaanse politiek maak, en dit spreek uit die eerste klompie publikasies. Net produksiekoste is dus met die bepaling van die markprys in ag geneem.

Politika is op ’n rots in Clifton – dít verklaar die akkedis-logo. Dis ’n besige kantoortjie met al die nodige toerusting wat in 2004 in in Caro Wiese se huis geskep is, toe Basson aan sy politieke herinneringe begin werk het.

Die afbeelding van die Namibiese kameeldoring (Acacia erioloba) het ’n beduidende plek in Politika se geskiedenis: in 1947 is Basson, destyds die politieke en Parlementêre verslaggewer vir

Die Suiderstem asook ’n provinsiale jeugorganiseerder vir die Verenigde Party in Kaapland, as hoofsekretaris van die Verenigde Nasionale Suidwes-Afrika Party in Windhoek in Suidwes-Afrika (die huidige Namibië) aangestel. In Augustus 1950 het hy ’n Lid van die Parlement vir die Nasionale Party in die kiesafdeling Namib geword tydens ’n verkiesing wat tien SWA-lede na Suid-Afrika se Parlement gestuur het.
Basson was elf jaar lank ’n LV van SWA, en hy het net goeie herinneringe aan hierdie tyd, onder meer sy huwelik met Clare Strauss en die geboorte van sy dogters Caro en Estee, asook die talle vriendskappe wat hy gesmee het terwyl hy daar gewoon het.

In dié tyd het hy die Windhoekse kunstenaar Dieter Aschenborn ontmoet, en dié het sy ex libris in 1956 ontwerp, met die kameeldoring as die kern daarvan. Dr. D.F. Malan het op ’n slag gesê: “Die kameeldoring groei op ons wydgestrekte en dorre vlaktes as ’n versinnebeelding van skoonheid, maar ook as toonbeeld van ons ingeburgerde Afrikaner-krag en taaie volharding.”

Politika werk nou met die befaamde boekontwerper Abdul Amien saam, en kleinhandelaars wat Politika-publikasies verkoop, is onder meer Protea Boekhuis, Exclusive Books, Wordsworth en CNA. Boeke kan ook aanlyn bestel word (kliek op die Bestelvorm).

 


    English  |  Afrikaans Created by quickOnline