Jacob Daniel du Plessis Basson

Die skrywer – ’n  legende in die Suid-Afrikaanse politiek – is op 25 Julie 1918 in die Paarl in die Wes-Kaap gebore en het sy opvoeding aan die Hoër Jongenskool Paarl en aan die Universiteit van Stellenbosch ontvang. Hy het in 1939 die graad B.A. (Regte) aan dié universiteit behaal. Hy is in 1947 getroud met Clare Strauss, ’n boorling van Kenhardt, en die egpaar het twee dogters.

Japie Basson se politieke loopbaan het reeds in 1939 begin toe hy die voltydse organiserende sekretaris van die Verenigde Party in die kiesafdeling Paarl geword het. Na ’n kortstondige draai in die joernalistiek by Die Suiderstem het Basson hom in 1943 die eerste maal vir die VP verkiesbaar gestel in die kiesafdeling Moorreesburg, waar hy met 1 022 stemme teen adv. F.C. Erasmus (’n latere Minister van Verdediging) van die Nasionale Party verloor het.

 

Sy verbintenis met Suidwes-Afrika (die huidige Namibië) het in 1947 begin toe hy in Windhoek Hoofsekretaris van die VP in SWA geword het, en is in Augustus 1950 versterk toe hy die VP verlaat en as NP-LP vir Namib verkies is. Ná verskille met dr H.F. Verwoerd, onder meer oor die uitbreiding van apartheidswette na SWA, moes hy die NP-koukus en later die party verlaat.

Ná ’n ruk as onafhanklike Lid van die Parlement stig Basson die Nasionale Unie, wat in 1961 ’n verkiesingspakt met die VP aangaan en later met hom saamsmelt. Basson stel hom in 1961 as VP-kandidaat in die Transvaalse kiesafdeling Bezuidenhout verkiesbaar, wen hierdie verkiesing asook dié van 1966, 1970, 1974 (onbestrede) en 1978, en verteenwoordig dié kiesafdeling oplaas tot 1980 in die Parlement. Hy word in 1975 die VP-leier in Transvaal en word in 1976 in dié posisie herkies.

Met die ontbinding van die VP in 1977 word Basson ’n stigterslid van die Progressiewe Federale Party, en word die volgende jaar die voorsitter van dié party se Parlementêre koukus. Hy word in 1980 op uitnodiging van premier P.W. Botha ’n lid van die Presidentsraad wat ’n

nuwe grondwet vir Suid-Afrika moet beding, en tree in 1984 uit die politiek. Hy sluit in 1985 as gewone lid by die NP aan, en word in 1985 onverwags weer tot die Presidentsraad verkies, waar hy tot 1989 dien.

Hierdie deurwinterde politikus neem in 1987 aan sy laaste verkiesing deel toe hy in die kiesafdeling Kaapstad-Tuine met 486 stemme deur Ken Andrew, die sittende kandidaat van die PFP, verslaan word. Hy woon tans in Clifton.

Benewens talle artikels in koerante soos die Sunday Times, Sunday Tribune en Eastern Echo het Japie Basson ook sy wedervaringe in die politiek in Raam en Rigting in die Politiek en die Storie van Apartheid en Politieke Kaarte op die Tafel te boek gestel. Die derde deel van sy politieke herinneringe is tans in voorbereiding. Die titel daarvan is Steeds op die Parlementêre Kolfblad.

Bo en behalwe die vele artikels wat Basson deur die jare vir koerante soos die Sunday Times, Sunday Tribune en die Eastern Echo geskryf het, het hy sy politieke nalatenskap geboekstaaf in ’n trilogie memoires wat nou almal op die winkelrakke beskikbaar is. Die jongste, Steeds op die Parlkementêre Kolfblad, het pas verskyn.

I Raam en Rigting in die Politiek en die Storie van Apartheid
II Politieke Kaarte op die Tafel, en
III Steeds op die Parlementêre Kolfblad.


    English  |  Afrikaans Created by quickOnline