Politieke Kaarte op die Tafel

Deel 2 van die storie van apartheid, deur Japie Basson
POLITIKA (Slapband, 195 bladsye, ISBN 0 620 36495 5, Prys R180)

Japie Basson was een van die kleurrykste politici van die politieke bedeling voor 1994, en was in die ideale posisie om die belangrikste persoonlikhede en aangeleenthede van daardie tyd waar te neem en te beoordeel. Die eerste deel van sy herinneringe, Raam en Rigting in die Politiek, is met die verskyning daarvan goed ontvang, en daar is reeds groot belangstelling in die derde deel, Steeds op die Parlementêre Kolfblad, wat tans in voorbereiding is.

Basson se bydrae tot die politieke geskiedskrywing is veral welkom omdat so min Afrikaanse politici van formaat onthullende geskrifte nagelaat het. Louis Botha, J.B.M. Hertzog, Hans Strijdom, Hendrik Verwoerd en John Vorster het hoegenaamd niks geskryf nie, en boeke deur of oor Jan Smuts, D.F. Malan, P.W. Botha en F.W. de Klerk is feitlik nutteloos as ware insigte in die denke en wese van dié mense.

Basson se eie bydrae tot ons geskiedenis is nie gering nie, maar buiten gewigtige sake skryf hy ook amusant oor effens mindere gebeure, soos die dag toe die Goewerneur-Generaal onverwags besluit om op Keetmanshoop uit sy amptelike Wit Trein te klim, ’n paniekbevange stasiemeester hom in sy kantoor toesluit, en Basson sonder das dié belangrike persoon moes ontvang. Daar is sy dappere maar mislukte poging om rolbal onder die knie te kry, en die demonstrasie van sy verbluffende fietsryvermoë aan ’n klompie jongelinge in Noorweë. En wat van ’n kroegie in Turkye wat ’n mens sou laat glo hy's “Parliament”? Lees maar self.

Basson skryf episodies, insiggewend, en in sy eie, uiters leesbare Afrikaans, oor belangrike persone en gebeure in ons geskiedenis, sonder om homself op die voorgrond te dring. Sy vertellings skitter soos pêrels aan ’n string, en sal onder ’n baie breë publiek groot byval vind.
________________________________________________________________________

Die inhoud in ’n neutedop

Hoofstuk 1
Ons, Afrikane
’n Blik op die gemengde herkoms van die meeste Afrikaners, en ’n beskouing van wie as ’n “Afrikaan” beskou kan en moet word.

Hoofstuk 2
Perspektief op Partywisseling
Basson is dikwels gekritiseer omdat hy meermale van party verwissel het. Hier noem hy talle ander voorbeelde, met die tema dat iemand wat aan sy eie beginsels getrou bly, soms gedwing word om só ’n stap te doen as sy party van rigting verander.

Hoofstuk 3
Stormvoël op ’n Skoppelmaai
Basson noem dat hy waarskynlik hoë leiersposte sou beklee het indien hy sy beginsels verloën en by een politieke party gebly het.

Hoofstuk 4
Politieke Tsoenami
Basson skets die agtergrond van die besluit dat Suid-Afrika aan die Tweede Wêreldoorlog moet deelneem, en die gevolge daarvan.

Hoofstuk 5
Genl. Smuts en sy “Rule of Thought”
Basson gee insig in die wese en gedagtewêreld van Jan Smuts.

Hoofstuk 6
Persman in die Parlement
Basson skets sy vroeë dae as Parlementêre verslaggewer.

Hoofstuk 7
Jeug op Wieke
Basson vertel van sy ervarings as organiseerder van die Verenigde Party se Unie-Jeugfront, en noem ’n paar reëls vir enige openbare vergadering wat nou nog gerus ter harte geneem kan word!

Hoofstuk 8
Padbord Parlement Toe
Basson vertel van sy eerste benoeming as kandidaat in ’n Parlementêre verkiesing in Somerset-Oos, sy ontrekking, en uiteindelike aanvaarding van ’n benoeming as kandidaat in Moorreesburg.

Hoofstuk 9
Die Transgariep Roep
Basson vertel van sy eerste besoek aan die destydse Suidwes-Afrika, en sy betrokkenheid by die Verenigde Nasionale Suidwes-Party.

Hoofstuk 10
Noord van Nakop
Die politiek in Suidwes-Afrika het sy eie kinkels in die kabel gehad, en Basson skets die kwessies wat dié gebied van Suid-Afrika onderskei het.

Hoofstuk 11
Nuwe Winde Waai in Windhoek
Ná die Tweede Wêreldoorlog is die eerste pogings aangewend om ’n aparte politieke bestel vir Suidwes-Afrika te beding, wat daarop uitgeloop het dat SWA ses Volksraadslede en vier Senatore in Suid-Afrika se Parlement verkry het – veel meer as wat sy karige bevolking regverdig het.

Hoofstuk 12
Uitdraaipad, Indraaipad
Ná die oorwinning van die Nasionale Party in 1948 het Basson by dié party aangesluit, en is hy tot LV vir Namib verkies.

Hoofstuk 13
Die G-G en sy Wit Perd
Basson vertel van die dag toe die Goewerneur-Generaal onverwags besluit het om op Keetmanshoop uit sy Wit Trein te klim, en daar niemand was om hom te ontvang nie.

Hoofstuk 14
In die Koukus-skrum
Basson gee insig in die debat oor Suid-Afrika se republikeinse strewes en debatte oor die land se volgehoue bande met die Statebond.

Hoofstuk 15
Koukus, Klubbaadjies, Vlae en Volksliedere
Dit was destyds die verdelende gebruik om ná elke openbare rolprentvertoning die Engelse volkslied te speel. Basson het gehelp om hieraan ’n einde te maak.

Hoofstuk 16
Dag in die Son
Basson probeer ’n voorstel vir ’n enkele volkslied en vlag by die Parlement indien.

Hoofstuk 17
Steeds Mooiweer en Warm
Basson brei uit oor die vlagkwessie.

Hoofstuk 18
“Baasskap” Begrawe
Basson bots met premier Strijdom oor die kwessie van die Afrikaner se oorheersing van ander rasse, en verset hom teen die begrip “baasskap”.

Hoofstuk 19
My NP-hoed Waai
Basson vertel in besonderhede van die gebeure wat daartoe gelei het dat hy die NP verlaat het.

Hoofstuk 20
Bestiering – of Besturing?
Basson ontleed met groot insig waarom premier Verwoerd ’n Suid-Afrikaanse republiek buite die Statebond wou hê, en gebeure gemanipuleer het om dit te bewerkstellig.

Hoofstuk 21
Verspeelde Vrydag
Basson vertel kortliks van die ontstaan van sy Nasionale Unie.

Hoofstuk 22
’n Sagte Staatsgreep
Die Odendaal-kommissie het voorgestel dat Suidwes-Afrika in twaalf aparte, onafhanklike “state” verdeel moes word. Basson bespreek hierdie absurditeit.

Hoofstuk 23
Patriotte en Patriotisme
Basson ontleed hierdie twee begrippe aan die hand van Verwoerd se traagheid om openlik erkenning aan sy Hollandse herkoms te gee.

Hoofstuk 24
Vennootskap Breek Deur
Suidwes-Afrika se politieke toekoms neem ’n beslissende wending deurdat dié gebied se Nasionale Party ’n eie rigting inslaan.

Hoofstuk 25
Vertroue Verlep – ná Vrolikheid in die Vreemde
Basson is lid van ’n sending van Suid-Afrikaanse politici na die buiteland, maar voel verraai toe dr. Connie Mulder ’n vertroulikheid verbreek.

Hoofstuk 26
Aap uit die Mou – met Domino-effek
Basson bespreek die Inligting-skandaal uit sy unieke perspektief, en skets ook sy eie aandeel aan die begin van Mulder se val.

Hoofstuk 27
Die Lang Afdraand
Die Inligting-skandaal het verreikende gevolge gehad, en Basson gee insig in hoe die hoofkarakters in dié drama daardeur geraak is.

Hoofstuk 28
“Geheime Organisasie” Sintese
Basson vertel van die informele besprekingsforum wat hy aangevoor het om oor die rasse heen debat oor belangrike sake in Suid-Afrika te voer. Sy “Sintese” was die tyd ver vooruit, en het gehelp om onderlinge begrip aan te wakker.

Hoofstuk 29
’n Kaartehuis Tuimel
Basson vertel kortliks van die destyds aardskuddende gebeurtenis toe Mangosuthu Buthelezi by ’n openbare geleentheid met ’n wit vrou gedans het!

Hoofstuk 30
Van waar, Gehasi?
Premier Vorster het met die gebruik van woorde soos “huidiglik” en “inspraak” ook ’n invloed op die Afrikaanse taal gehad.

Hoofstuk 31
Balle en Bane
Uitsonderlike vermoëns op die sportveld het Basson nooit gehad nie, maar hy kon besonder goed rolskaats en fietsry!

Hoofstuk 32
Bankevol Boishaaiers
In ’n stadium was daar twaalf oud-leerlinge van Paarl Boys High tegelykertyd as LV's en Senatore in die Parlement.

Hoofstuk 33
Ongenade Onbeperk
Basson vertel kortliks van ’n onverkwiklike rasse-insident in Pretoria wat insig gee in waarom Suid-Afrika die “muishond” van die wêreld geword het.

Hoofstuk 34
Spotprente Maak én Breek
Die spotprenttekenaar D.C. Boonzaier het Louis Botha se aansien in Suid-Afrika groot skade aangedoen bloot deur hom dikwels in “Imperialistiese” hofdrag uit te beeld. Basson skets ander gevalle waar spotprente groot invloed uitgeoefen het.

Hoofstuk 36
“Parlementsitting” in Turkye
’n Kort vertelling van ’n insident tydens ’n vakansie in Turkye

 

Uittreksels uit resensies in die pers

Fine Music Radio: 4 October 2006
(David Welsh)


“Some men change their party for the sake of their principles; others change their principles for the sake of their party” (Winston Churchill).

[Basson’s] many changes of party affiliation made him the target of much criticism … this [book] is a collection of accounts, more or less chronological, of political events in which he was involved.
Always a shrewd observer of the political scene, among the best parts of the book are the profiles he provides of some of the big figures who dominated politics in the earlier era: Smuts, Hofmeyr, Strijdom, Verwoerd and Vorster.

He has interesting insights to offer … he was suspicious of Strijdom and especially Verwoerd.
He had the tenacity to challenge Strijdom – in a newspaper article – about his continued use of the word baasskap.

Basson gives a full account of his expulsion from the NP for refusing to support Verwoerd’s insistence that the 1959 legislation dealing with homelands include a clause abolishing the small representation of Africans (by whites) in Parliament.

Die Burger: Sake van die Dag 25 Augustus 2006
(Leopold Scholtz)

In die afgelope week het ek ’n heel interessante boek gelees … die tweede deel in ’n trilogie van die veteraan-politikus mnr. Japie Basson ...

Basson was een van daardie rare voёls in die Afrikanerpolitiek: hy was ’n liberale, selfs rebelse Afrikanernasionalis.

Op een vlak was hy gewoon ’n permanente dissident, iemand wat moeilik by die opportunisme van die beroepspolitikus kon aanpas, iemand wat altyd sy onafhanklikheid behou het.
Basson ... moes ook kies tussen die liberalisme en die Afrikanernasionalisme, maar ná ’n begryplike heen-en-weer was sy keuse die liberalisme. En dus het hy in 1959 definitief met die Nasionale Party as beelddraer van die Afrikanernasionalisme gebreek.

Die geskiedenis het die Afrikaners inderdaad ’n lelike streep getrek. Hopelik kan Basson se geskiedenis mense aan die dink sit.

Volksblad: Boekeblad: 29 Januarie 2007
(Ockie Geyser)


Hierdie publikasie uit die pen van Japie Basson ... is die publikasie waarop ons almal gewag het.
Basson se vertellings is ... om die minste te sê, behoorlik ’n fees om te ervaar. Dit is grappig, ernstig, onderhoudend en boei deurgaans. Die leser kan hom kwalik beter voorstel.


    English  |  Afrikaans Created by quickOnline