Raam en Rigting in die Politiek en die Storie van Apartheid

Japie Basson, een van die kleurrykste Suid-Afrikaanse politici uit die apartheid-era, het dikwels ’n gefladder in die politieke duiwehok veroorsaak, luidens Sakkie Perold, ’n voormalige redakteur van die Sondagkoerant Rapport.

Die eerste deel van sy politieke herinneringe, Raam en Rigting in die Politiek en die Storie van Apartheid, getuig van sy veelsydige politieke loopbaan, wat hy geloods het deur die stormagtige waters van ’n land  “waar die dinamika soos ’n sterk rivier gevloei, links en regs gekronkel, teen watervalle afgestort en selde stil oor die vlaktes gevloei het” (uit Paul Murray se resensie op LitNet, September 2006).

In die baie vroeë stadiums van sy parlementêre loopbaan het sy verligte standpunte, wat hy uitgespreek het sonder om doekies om te draai, dr. H.F. Verwoerd, die destydse Eerste Minister, só geïrriteer dat hy Basson uit die Nasionale Party gesit het.
Basson het egter ten opsigte van sy beginsels voet by stuk gehou, en gevolglik het hy hom meestal in sy politieke lewe, wat oor ’n halwe eeu gestrek het, midde-in omstredenheid bevind.
Hy is dikwels beskryf as iemand wat sy tyd vooruit was.

In Raam en Rigting in die Politiek bied Basson eerstehandse inligting oor historiese figure soos genl. J.B.M. Hertzog en dr. D.F. Malan, en veral oor die sterk invloed van voormalige eerste ministers H.F. Verwoerd en B.J. Vorster.

Hierdie boek maak ’n mens se oë vir die intriges agter apartheid oop, en moet gelees word deur enigiemand wat dié dwaling wat die nasie so lank gevange gehou het, probeer verstaan of daarby wil berus.

Die inhoud in ’n neutedop

Hoofstuk 1
Die Bassons: Hugenote of Hollanders?
’n Goed nagevorste en uiters interessante hoofstuk oor die herkoms van die Bassons, wat hulle as familie in die Paarl kom vestig het. Daar is ook ’n paar interessante stories oor die destydse vervolging van die Protestante in Frankryk, Nederland en België – ’n ware aptytwekker vir die ontstaan van die Nasionale Party se “vervolgingswaan” in die gedaante van apartheid.

Hoofstuk 2
Aan de Zuidpunt …
Aan die Suidpunt van Afrika, skryf Piet Kort van Nederland in 1968, woon ’n groep mense wat hulself so belangrik ag dat alle ander belange vir hulle opsy gesit moet word ... ’n hoofstuk oor sommige van die buitelandse publikasies oor die werklikhede van apartheid “wat soveel denkende mense uiteindelik teen ons die harnas in gejaag het”.

Hoofstuk 3
Politiek by die Pap
“Die huis waarin ek grootgeword het,” vertel Basson, “was selde ’n dag lank sonder partypolitieke vibrasie.” Van huisdokter tot huisvriend was sterk by die politiek betrokke. Basson vertel ook hoedat sy vader se invloed gesorg het dat hy van jongs af ’n ywerige koerantleser geword het.

Hoofstuk 4
Polarisasie Pla die Pêrel
’n Lewendige en innige beskrywing van die skrywer se kinderdae op sy tuisdorp, en sy skooljare op hoër jongenskool, oftewel Boishaai, en die ernstige dog gemoedelike “vyandskap” tussen Boishaai en Paarl Gimnasium, en die byna irrasionele kerk- en skoolpolitiek op die dorp.

Hoofstuk 5
Goud uit ’n Ghienie
Goud – in die vorm van “blywende en sielsbevredigende liefde vir boeke en vir die goed geskrewe woord” is vir Basson veel meer werd as ’n ghienie – die skrywer vertel hoe dit gebeur het dat hy so ’n onversadigbare leeslus ontwikkel het.

Hoofstuk 6
Drome in die Dag
Basson het as skoolseun al sy oog op die Parlement gehad – tot ongeloof van sy Latyn-onderwyser ...

Hoofstuk 7
Die Houvas van Hollywood
“Ek wonder soms watter woorde ’n mens sal moet kies,” sê die skrywer, “as jy om ’n voldoende uitleg gevra word oor die invloed en houvas wat die rolprentbedryf in die algemeen, maar Hollywood in die besonder, wêreldwyd op die geluk en gedragswyse van die mensdom uitoefen.” En dan vertel hy van dr. Albert Hertzog se fobie vir die bedreiging wat die Amerikaanse rolprentinvloed vir die Afrikaner se kultuurlewe sou inhou.

Hoofstuk 8
Padvinders en Patriotte
Die stigting van die Voortrekkerbeweging, en die uitdagings waarvoor dit in later jare te staan gekom het – sonder dat die beweging sy hoofdoel uit die oog verloor het, naamlik om beter, nuttiger landsburgers te help vorm.

Hoofstuk 9
’n Bybelvertaling bring Beroering
Basson vertel van sy oupa se verontwaardiging oor die 1933-vertaling – só intens dat hy by die kerk uitgestap het! – en lug ’n paar gedagtes oor vertaling en vertaalwerk, waarvan hy self ervaring opgedoen het toe hy as joernalis by Die Suiderstem gewerk het.

Hoofstuk 10
Toorn en Tweespalt
Hierdie hoofstuk handel oor prof. Johannes du Plessis, wie se standbeeld later onder Stellenbosse studente eenvoudig as “Pienk Piet” bekend geword het, ’n naam wat ligjare verwyder is van die kwaliteit mens wat hy was: ’n bevryde teoloog van formaat, vriend van genl. Jan Smuts – en telkens in die spervuur van die kerklike sinode weens sy omstrede uitsprake.

Hoofstuk 11
Huis en Hoëpriesters
Basson vertel onder andere van ’n onbeplande besoek aan Ierland, waartydens hy die voorreg gehad het om na ’n toespraak van die voormalige Ierse vryheidsvegter en latere president, Eamon de Valera, te kon gaan luister, en ook van ’n besoek aan die Ierse parlement.

Hoofstuk 12
Poësie in die Praathuis
Die skrywer waag soms sy hand aan gedigte skryf en vertaal, en gesels ’n bietjie hieroor. Hy vertel ook van en haal aan uit boeke in sy besit wat die handtekening van die skrywers bevat – onder andere van dr. Nic Diederichs en Arthur G. Barlow.

Hoofstuk 13
Op Hol met Hitler
Die invloed van die Hitler-kultuur op sekere groepe in Suid-Afrika word bespreek, met verwysings na nasionaal-sosialistiese faksies soos die Gryshemde en die Bruinhemde – en die “Gesuiwerde” Nasionale Party se ingewing van die oomblik: die Oranjehemde!

Hoofstuk 14
Raam en Rigting
Die skrywer en sy pa het vyf jaar saam in die parlement gedien, en hy en sy broer vyftien jaar – hoewel hulle twee nooit in dieselfde party gedien het nie. “Dit was vir ons doodnatuurlik om selfversekerd te wéés wat jy is”, skryf hy. Hy gesels oor sy siening van die demokrasie, en die Bassons se houding tenoor anderskleurige medeburgers.

Hoofstuk 15
Doopdolheid in Dagbreek
Basson is Stellenbosch toe om in die regte te gaan studeer – maar nie voordat hy onmenswaardig deur Dagbreek-koshuis se doopproses moes gaan nie. Hieroor het hy heelwat te vertel – en nie sonder geannoteerde opmerkings oor wat hy van die destydse ontgroeningsmetodes dink nie!

Hoofstuk 16
Koshuis en Kamermaat
’n Kort en kragtige hoofstuk oor ’n vreemdsoortige kamermaat.

Hoofstuk 17
Akademiese Afleiding
Die skrywer vertel van sy studies aan die Universiteit van Stellenbosch, van sy klasse by dr. H.F. Verwoerd en die “gevoelentjie” wat hy ten opsigte van die doktor se politiek begin ontwikkel het; sy lekker lesings by prof. Piet Schoeman, en sy vriend Frans (later bekend as die skrywer F.A.) Venter, wat weens ’n anti-Malankoerantberig sy broek verloor en onder ’n tuinkraan by ’n meisiekoshuis beland het ...

Hoofstuk 18
Plek in die Politiek
In Basson se tweede jaar is sy hulp ingeroep met die stigting van ’n VP-studentetak, die eerste in sy soort in die land. Hy vertel van sy ontmoeting met onder andere Beyers Naudé, en van die verkiesing waartydens adv. H.A. Fagan die NP op Stellenbosch met ’n meerderheid van 30 stemme oorrompel het.

Hoofstuk 19
Die Geliefde Taal
Ons lees van die J.J. Smith-spelwyse (soos geresepteer deur prof. J.J. Smith, eerste hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal), en van die nou bekende destydse redaksielede van Die Suiderstem, onder andere Freda Linde en F.A. Venter.

Hoofstuk 20
Koel in ’n Kabinetskrisis
’n Besoek aan die VP-studentetak deur die destydse Eerste Minister, genl. Hertzog, te midde van ’n krisis in sy kabinet.

Hoofstuk 21
Pret met Plato
Die skrywer vertel van sy verkiesingsveldtog in Suidwes-Afrika, en van ’n paar eienaardighede van sy teenstander, adv. M.J. Kritzinger.

Hoofstuk 22 Stuurmanne en Staatsmanne
Ons lees in hierdie hoofstuk van genl. Smuts se verfoeiing van apartheid, van dr. D.F. Malan se beskouing daarvan, van die skrywer se respek vir Confucius se leringe en oor ’n boek wat oopmond nabetragting hou oor die mislukking wat apartheid was.

Hoofstuk 23 “Smelting” en “Suiwering”
Die stormagtige koalisiepolitiek van die dertigerjare word bespreek – Hertzog en Smuts se VP, D.F. Malan se amperse vernedering in die verkiesing op Calvinia, en die VP-oorwinning oor die Gesuiwerde NP in die 1938-verkiesing.

Hoofstuk 24 Sewe Stellings
Die parlementêre partypolitiek van die dertigerjare het eerder gedraai om verhoudinge tussen Afrikaners en Engelse, en met Suid-Afrika se betrekkinge met Brittanje, en enige verwysing na ras het verwys na die blanke Afrikaans-Engelse wêreld. “Sewe Stellings” verwys na die sewe “voorwaardes vir koalisie” tussen die NP en die SAP, waarvan die sesde punt geheel en al rondom die sogenaamde “Naturellekwessie” gedraai het: ’n voorneme om ’n oplossing vir dié vraagstuk te vind “sonder om die Bantoe sy reg tot ontwikkeling te ontneem”.

Hoofstuk 25 Keer en Kentering
Die vroeë jare dertig is gekenmerk deur droogtes, geldkrisisse – en Hitleristiese haatpropaganda, uitgesaai deur die onderskeie “hemdebewegings”, wat hul openbare steun uit Gesuiwerde geledere getrek het. Ons lees ook van Hertzog se nasionaalsosialistiese neigings, wat daartoe gelei het dat hy met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in die parlement verslaan is, botsings met die Ossewa-Brandwag, protes teen die binnelating van Duitse vlugtelinge ná die oorlog, die “Republikeinse Staatskonstitusie” van 1942 ... en die aanloop na apartheid, wat sonder twyfel sy wortel gehad het in die fascistiese ideologieë wat van Duitsland af die land binnegewaai het.

Hoofstuk 26 ’n Beduidende Brief
’n Brief van gelukwensing van die Stellenbosse studente-VP aan genl. Hertzog word beantwoord – met sterk verwysings na die irritasie wat die Generaal met die Engelse faksie in die party gehad het. Die skrywer verskaf wel deurdagte en uiters interessante insigte oor die “ongedurige betrekkinge tussen ... die Engelse empaaier-fundamentaliste en die Afrikaanse politieke willewragtigs”.

Hoofstuk 27 Skeuring en Skeiding
Ná sy oorwinning in die algemene verkiesing van 1938 sou die VP-regering moes kon uitsien na ’n tydperk van positiewe samewerking in ’n regering van nasionale eenheid – maar die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het alles onderstebo gekeer. Lees van Smuts se oorwinning oor Hertzog weens verskille oor Suid-Afrika se verbintenis met die “Duitse Reich”, van vooroorlogse anti-VP-propaganda deur dr. Malan en sy party, en uiteindelik die begin van ’n hartseer “tien jaar vir die Nasionale Party wat bestem was om baie leliker te word voordat dit kon verbeter” (aldus Schalk Pienaar van Die Burger).

Hoofstuk 28 Vooraand van Apartheid
Basson vertel van die politieke propaganda en onderstrominge – baie daarvan ’n regstreekse gevolg van die Tweede Wêreldoorlog – wat die verkiesing van 7 Julie 1943 voorafgegaan het, en hoe dit gebeur het dat die verkiesingsuitslag vir dr. Malan en die NP as “’n verbysterende klap in die gesig” gekom het.

Hoofstuk 29 Moorreesburg, my Nooi!
Die skrywer word kort voor die 1943-verkiesing genooi om die VP se parlementêre kandidaat in Moorreesburg te wees. Sy jeugdige voorkoms blyk toe ’n kwelvraag te word (“Weet jou ma jy is uit?”). Lees meer hieroor, en ook oor die NP se verkiesingspropaganda en manifes, (“Genl. Smuts staan vir die behoud van die Britse konneksie met sy uitgediende Brits-Joodse kapitalistiese demokrasie”), en sy eerste kennismaking met P.W. Botha.

Hoofstuk 30 Segregasie versus Apartheid
Die leitmotiv van “segregasie”, soos deur die blanke begryp, was beskawingspeil, en nié kleur nie – aldus Basson. Segregasie was ook nie destyds op die sogenaamde Kleurlinge van toepassing nie. Maar apartheid is vir suiwer partypolitieke doeleindes geskep, is aangebied as “kleurbeleid”, en was enig in sy soort in die wêreld. “Die meeste lande,” sê die skrywer, het ... “die een of ander graad van veelvolkigheid of veelrassigheid en is net soos ons belas met etniese diversiteite en minderheidsvraagstukke”. Wat, dan , het die res van die wêreld so opgerui teen ons manier van dinge hanteer?

Hoofstuk 31 Onreg op ’n galop
Lees hoe dit gebeur het dat die NP toenemend die Kleurlingstem begin verloor het, en die onregte wat Kleurlingkiesers te beurt geval het as hulle hul stemreg wou uitoefen. Dié hoofstuk bevat ook ’n bladsy uit die Hansard met die privaatmosie in belang van die Kleurlingbevolking, wat gelei het tot die Kommissie van Ondersoek na Aangeleenthede rakende die Kleurling-bevolkingsgroep in 1973.

Hoofstuk 32 Onnodige ondergang
In hierdie hoofstuk is daar ’n rare foto, hier vir die heel eerste maal gepubliseer, van genl. J.C. Smuts by die vyftignasie-konferensie ter bekragtiging van die Handves van die VVO in San Francisco, Junie 1945. Die Smuts-regering het “met glans uit die wêreldoorlog getree”. Wat het dan daartoe gelei dat die VP die verkiesing van 1948 verloor het? Lees oor die VP se onnodige nederlaag, en oor hoe die 44 jaar van apartheid onder NP-bewind aangebreek het.

Hoofstuk 33 Kulpolitiek en sy Kronkels
“Uiteindelik”, vertel Basson ons “was dit die NP self wat gedoen het wat hy gesê het die ‘ondergang van die blanke Christelike beskawing’ sou meebring en wat die land aan swart meerderheidsregering oorhandig het.” Lees meer oor die “ongelooflikhede van partypolitiek” in dié hoofstuk.

Hoofstuk 34 Inkosi Verwoerd: Skêr en Snitte
’n Nadere kennismaking met Verwoerd, soos ervaar deur die skrywer. Vroeë gevaartekens waaraan niemand salf kón of wóú smeer nie ...

Hoofstuk 35 “Tonge flink met fabels”
Lees oor die “denklooshede” van John Vorster, destydse Eerste Minister en latere Staatspresident – sêgoed wat die skrywer genoop het om ’n kantoorlêer oop te maak met die titel Vorster-howlers: die Juwele van John – waarvan sommige ’n lig werp op onder meer die ontstaan van die sogenaamde Inligtingskandaal. Lees ook oor hoe Vorster probeer het om die Regering se beleid in die buiteland te verdedig – natuurlik sonder sukses – en hoe begrippe soos “afsonderlike ontwikkeling” en “plurale demokrasie” die volksmond binnegesluip het.

Uittreksels uit resensies in die pers

Beeld: Boekeblad 13 September 2004
(At van Wyk)

Dis  ’n lekker boek, uitstekend geskryf, selfs vrolik – behalwe oor apartheid – en dit help ’n leemte vul, want Afrikaans is skaars aan politieke memoires. Dié een ... vat jou meer as 80 jaar van Boishaai in die Pêrel tot by die verteller in sy boekery, met Afrikaans sy “lieftaal”.

Hy lyf jou in by sy kleintydse bende cowboys; jy jil langs hom in die stilfliek ... jy hoor die viskarre kom en die nagwa, en luister saam met oupa Hendrik daardie 1933-Sabbat na die eerste Afrikaans vertaling: “Die Here jou God is ’n jaloerse God ...”

“Die Here jaloers!” Oupa vat sy kierie en loop. Vyftig jaar later lees sy kleinseun die Nuwe Vertaling: dis sonder “’n jaloerse God”.

Oor apartheid en sy “baasskappers” is Basson ’n “donkerkyker” en Smuts sy “politieke Springbok” – om sy woorde te gebruik. Sy storie is te verwelkom, want Afrikaners ontwyk diep dink oor apartheid en kom nie tot sielsuiwering nie ...”

 

Die Burger: Boekeblad 6 September 2004
(Willie Breytenbach)

Outobiografieë is van die mees onderskatte bronne van eietydse geskiedenis. Dink net aan die nuwe insigte oor Amerikaans politiek wat uit Henry Kissinger se eie boek voortgespruit het; insigte oor wat in Namibië en Angola op die militêre front gebeur het soos gesien deur genl. Jannie Geldenhuys (oudhoof van die SA Weermag); en FW de Klerk se eie verhaal oor hoekom hy die toespraak in Februarie 1990 gemaak het.

Japie Basson ... se politieke lewensverhaal val in dieselfde klas. Die verskil is dat Japie Basson nie self geregeer het nie, want meestal was hy in die opposisie ... ’n opposisie-voorbanker teen Verwoerd, Vorster en Botha.

Basson ken die politiek. Dit kan nie anders nie, want hy het in sy lang loopbaan aan sewe politieke partye behoort ...

LitNet: 27 September 2006
(Paul Murray)


The Bassons – Danie, father of Japie, Hein, Japie’s brother, and Japie himself – have made a considerable contribution to the South African political scene.

[Japie Basson’s] work as a politician proceeded unabated from the political bench of what must certainly rank as one of the noblest of all positions, as a member of the Opposition.

Basson’s book Raam en Rigting in die Politiek en die Storie van Apartheid is a testimony to a polychromatic career in politics … [his] elegance as a speaker and thinker saw him fill the position in the Opposition as the country’s shadow Minister of External Affairs, and as a specialist in this matter as well as in matters constitutional. His training in law served him well in this department.

A position on the country’s President’s Council was the culmination and recognition of a lifelong contribution to South African politics. Basson’s voice against injustice echoed through the halls of South African politics for half a century. The memoirs in the form of this book tell the story clearly and vividly, and make for dynamic reading.

The fourteenth chapter of the book has part of the title in it: Raam en Rigting, and opens with an apt quote which says of Confucius that he “would never sit on a mat that was not straight”. As a nationalist, Basson explains the belief in Afrikaner nationalism at the time. The purpose was never to operate or act alone for one’s own sake, but rather in context of being part of a multinational country. Coalition and fusion politics is explained in the chapter in broader context of co-operation with English-speaking South African politics.

The numerous chapters serve as separate yet interconnected essays describing, debating, analysing and explaining the exigencies, manifestations and intricate connectedness of the South African political scene at the time of Basson’s political life. There is a chapter that explains for the student of political history the difference between segregation and apartheid, a difficult task in anyone’s books because it is so conceptual. The close involvement for the NP with the coloured people and the effects on the political situation in the country is a topic of discussion in the chapter entitled “Onreg op ’n Galop”.

The current publication is a valuable addition to the existing canon of political writings on South African political history. It brings with it a personal narrative of intense involvement at the time when our history was most closed off, and the voice of a broad-minded South African comes through strongly in the story.

The volume is well illustrated with photographs in black and white as well as with Ivanoff cartoons and copious footnotes. The book is indexed, thus presenting the student with a user-friendliness also found in the accessible prose, neatly written, with sensitivity and in a fluid and pleasing-to-read style. It reflects, above all, Basson’s ability to tell the story of apartheid in such a way that personal history and official history are inextricably intertwined, covering a period in the country’s history that will never be forgotten and in which Basson played no small part.

 

 

 


    English  |  Afrikaans Created by quickOnline