Basson voltooi sy verhaal
Steeds op die Parlementêre Kolfblad
met Insigte oor die Afrikaner en Afrikaans
Die eerste druk van die tweede deel van Basson se politieke herinneringe, Politieke Kaarte op die Tafel, is gou uitverkoop, en dit is herdruk. Geen wonder nie dat daar selfs groter belangstelling is in die derde deel van die trilogie, Steeds op die Parlementêre Kolfblad – met insigte oor die Afrikaner en Afrikaans.
In die derde deel van sy politieke herinneringe tel die deurwinterde politikus Japie Basson nog politieke klippe op sodat ons kan sien wat daaronder rondskarrel. Hy vertel alles wat ’n mens wou weet oor gebeure in die koukuskamers van verskeie partye, en nog meer. Hierdie gretig afgewagte vervolg op Raam en Rigting in die Politiek en Politieke Kaarte op die Tafel is nou beskikbaar!
Basson het ’n regsgraad, maar het sy politieke stem die eerste maal as joernalis laat hoor. Hy is ’n begaafde debatvoerder en skrywer met ’n uniek moeitelose skryfstyl, en beïndruk as ’n bekwame storieverteller en diep denker wat meer as vyftig jaar lank sonder aarseling alles bevraagteken het wat hy as onbillik en onaanvaarbaar beskou het.
In ’n resensie haal Paul Murray ’n anonieme skrywer aan wat Basson se intellektuele energie in ’n neutedop vasvang: “Om te dink, te weeg, te sif, te besluit en te dóén – dit is sy lewe.” Murray sê dan voorts: “Die historiese werklikheid van die tyd terwyl apartheid in die donker tyd van ons geskiedenis ontvou het, is helder vasgevang deur Basson se beskrywende maar maklik leesbare prosa. Die boek is dus ’n waardevolle bewaarplek en argief vir studente van Suid-Afrika se politieke geskiedenis, maar ook vir die algemene leser.”
Basson self bied die volgende oor sy geskrifte: “Die kern van wat ek wil sê, is die storie van apartheid ... presies wat daaragter steek – die siel, by wyse van spreke.”
Japie Basson het sy hele lewe aan die politiek gewy. In dié tyd het hy aan verskeie partye behoort, onder meer ook aan een wat hy self gestig het, naamlik die Nasionale Unie. Hy was een van ses LV’s wat die destydse Suidwes-Afrika in die Suid-Afrikaanse parlement verteenwoordig het, en was daarna die agbare lid vir Bezuidenhout, waar hy feitlik ’n instelling geword het. Hy het sy aktiewe politieke loopbaan afgesluit in die Presidentsraad, wat die eerste treë op die weg na die demokratiese Suid-Afrika ná 1994 gegee het.
Hy begin met sy tyd in die politieke wildernis nadat hy uit die Nasionale Party se koukus geknikker is omdat hy hom teen sekere aspekte van dr. Hendrik Verwoerd se apartheidbeleid verset het, en vertel dan van die stigting van die Nasionale Unie, toenadering deur sir De Villiers Graaff wat daarop uitgeloop het dat hy as kandidaat vir Bezuidenhout benoem is, sy verkiesing tot LV vir dié kiesafdeling en sy aansluiting by die Verenigde Party. Ook die uiteindelike versplintering van die VP, en sy aansluiting by en uiteindelike skorsing uit die Progressiewe Federale Party onder dr. Frederik van Zyl Slabbert kom aan die bod, en laastens sy werksaamhede in P.W. Botha se Presidentsraad, wat Basson in teenstelling met baie ander kommentators as ’n baie belangrike stap in die uiteindelike aftakeling van apartheid beskou. Hy wys veral daarop dat die NP onder Botha die opposisiepartye in baie opsigte verby gesteek het wat die uiteindelike voorbereiding op die demokratiese verkiesing van 1994 betref.
Hy sluit die boek af met prikkelende hoofstukke oor die toekoms van Afrikaans, met die waarskuwing aan Afrikaners dat hulle nie moet probeer om al hul vorige voorregte te behou nie, want dan staan hulle juis gevaar dat hulle dit alles sal verloor.
Die vorige twee dele van Basson se politieke herinneringe, Raam en Rigting in die Politiek en Politieke Kaarte op die Tafel, is met hul verskyning uitstekend ontvang, en hierdie derde deel sal beslis ewe veel byval vind.
Die inhoud in ’n neutedop
“Wat elke Afrikaner vandag ... behoort te besef,” besin Basson in Steeds op die Parlementêre Kolfblad, “is dat sy groep as ’n wit groep geen afsonderlike aanspraak op grondwetlike regte het buiten dié wat vir alle burgers van die land geld nie.”
Basson meen dat die meeste Afrikaners vandag besef en bely dat apartheid “’n baksel van groot onreg en onheil” teenoor mede-Suid-Afrikaners was – ’n standpunt wat hy self dwarsdeur sy eie politieke loopbaan gehandhaaf het, en wat hom veel politieke onmin op die hals gehaal het.
“Die onteenseglike werklikheid,” hou Basson vol, “is dat die Afrikaner as wit groep nooit weer politieke gesag sal ruik nie – nie oor homself nie, en nog minder oor ander.”
Die skrywer besin in Steeds op die Parlementêre Kolfblad onder meer ook oor sy “Afrikaansheid”, oor die welstand van Afrikaans, die Stellenbosse taaldebatte en dubbelmedium- en moedertaalonderrig. Hy haal W.E.G. Louw aan: “Die eentalige persoon in Suid-Afrika is nie slegs ’n halwe landsburger nie, maar ook ’n halwe mens.”
“Daar is”, sê Basson, “geen (géén) ‘taalplan’ te bedink wat nie in ons snel veranderende toestande sy kopkrappers gaan oplewer nie.”
Hy begin sy vertellinge met hoedat hy in sy 10de jaar as LP as onafhanklike lid (dr. Verwoerd het hom met die vorige sitting gevra om die NP te verlaat) ’n soort “niemandsland” beleef het, en gevolglik begin dink het aan ’n nasionale hervormingsbeweging (die Nasionale Unie), sterk genoeg om ’n wesenlike invloed op politieke besluitnemers te hê, wat SA in ’n ander rigting as die rampspoedige apartheidspad kon lei. Sy voorstelle, onder meer dat bruin kiesers regstreekse verteenwoordiging in die Parlement moet kry, is met minagting begroet, maar hy het steeds bly glo dat mense in die NP op ’n dag sou insien dat die beleid van apartheid van die tafel af gevee moet word.
Versoeke dat Basson moes help om ’n nuwe party in Suidwes-Afrika te stig, het begin instroom, en ’n stigtingskonferensie is vir 10 Februarie 1960 belê, nog nie ’n maand ná die aanvang van die parlementêre sessie nie.
Hy skryf ook oor die rol en beleid en veral oor die koers en denkwyse van die NU van dertig jaar voor 1990, ’n beweging wat die apartheidsregering se bedenksel van ’n “Blanke Suid-Afrika” verwerp het en besef het dat die allesoorheersende politieke vraagstuk van die dag die problematiek was van mense- en volkeverhoudinge in Suid-Afrika, ’n land met ’n heterogene en wyd uiteenlopende bevolking.
Ons lees van die 1960-referendum oor republiekwording, en nog meer oor Verwoerd se “flouspolitiek”, waarmee hy SA uit die Statebond gemaneuvreer het – met die uiteindelike vraag: hoekom was lidmaatskap van ’n vriendskaplike konstellasie soos die Statebond vir Verwoerd soveel lastiger as SA se bande met die VN, waar haat en vyandige optrede teen ons aan die orde van die dag was?
In ’n hoofstuk met die titel “Neo-gesuiwerdheid Blom” het Basson heelwat te sê oor sensuurskap onder Verwoerd en Vorster.
Hy beskryf in een hoofstuk “die spannings- en durfvolste geslote vergadering” wat hy in sy organiseerdersdae meegemaak het: daar was voor die verkiesing van 1950 bedenkinge oor skadelike kenmerke wat aan die NP-leierskap van mnr. H.J. Klopper gekleef het, en daar is gevrees dat dit die uitslag vir die party nadelig kon beïnvloed.
Die besluit om Klopper se leierskap te beëindig is sonder teenstem aangeneem – en tog het dr. Verwoed uiteindelik vir Klopper as Speaker van die Parlement aangestel!
Basson skryf oor die VP én die Progge se referendum-veldtog teen republiekwording, en oor geldskieters wat die nee-organisasies “met miljoene rande opgepomp” het.
Vir ’n groepie Engelstalige NU-lede was die ja-woord vir ’n Verwoerd-republiek te veel gevra. “Hul wantroue in die Doktor se politieke programme het daarvoor te diep geloop,” aldus Basson.
Hy vertel hoedat ’n invloedryke mynbaas hom na sy kantoor toe genooi het en gepleit het dat die NU openlik ten gunste van die nee-stem moet uitkom. Sy groep was bereid om die gepaardgaande veldtogkoste van die NU tot ’n verstommende hoё bedrag te dek.
Aangesien Basson ná sy uitsetting uit die NP in 1959 heeltemal los van dié party gestaan het, het simpatieke kringe met dieselfde druk vorendag gekom as dié wat tot die stigting van die Nasionale Unie in die Suide gelei het: die versoek dat hy ’n nuwe Suidwes-Afrikaanse party moet vorm. Vooraanstaande Duitssprekendes het geldelike hulp daarvoor aangebied. Die “SWP” is in 1960 gestig: die Suidwes-party of SWP (ook in Engels en Duits).
In ’n uiters interessante hoofstuk onder die titel “’n Spoor van Geweld” lees ons hoe destydse Eerste Minister John Vorster in 1977 met verwysing na Basson aan sy biograaf John D’Oliviera gesê het: “Ek moet eerlik wees, ek hou nie van die man nie, dus is alles wat ek van hom sê bevooroordeeld ...” Hierdie hoofstuk bevat ook skokkende vertellings van die beplande – en gewelddadige – opbreek van politieke vergaderings waar die skrywer en sy partygenote in Vorster se tyd opgetree het.
So sou ’n mens kon aanhou en aanhou aanhaal en oorvertel – maar nie in die gemaklike trant van dié begaafde skrywer en debatteerder nie, en beslis sonder sy politieke insigte en binnekring-kennis. Lees eerder self. Steeds op die Parlementêre Kolfblad span die kroon op sy werk, en is ’n leeservaring wat nie misgeloop moet word nie. Dit is ’n kosbare nalatenskap.
Steeds op die Parlementêre Kolfblad
met Insigte oor die Afrikaner en Afrikaans
ISBN 978-0-620-40906-3
204 bladsye, 152 mm x 230 mm, sagteband
Prys: R190.00
Verkrygbaar by Protea Boekhuis, Clarke's Book Shop, Exclusive Books, Van Schaik, Wordsworth en alle goeie boekhandelaars.
|